Original Articles

Die identifisering van idiome vir die semantiese woordeboekprojek op die Ou Testament

DOI: 10.1080/10118063.1988.9724292
Author(s): S., J.P.K. Riekert, ,
Keywords: ,

Abstract

Die artikel poog om terwyl dit wys op probleme wat ervaar word in die identifisering van idiome binne die raamwerk van die semantiese woordeboekprojek op die Ou Testament enkele kriteria daarvoor vas te stel. Die identifisering van leksikale betekenisse van woorde asook van idiome met hulle leksikale betekenisse word bemoeilik deur 'n aantal faktore wat eerstens eie aan taal as menslike fenomeen is en tweedens eie aan die Ou Testament in Hebreeus as 'n taalkorpus wat oor 'n lang periode van etlike eeue ontstaan het en vandag uitsluitlik gelees word deur mense wat nie moedertaalsprekers van die oorspronklike taal is nie. Afgesien hiervan bied die identifikasie van idiome eiesoortige probleme. 'n Idioom kan omskryf word as 'n grcepering van twee of meer woorde wat as leksikale eenheid optree en in sy geheel 'n onderskeibare betekenis het, wat nie die totaal van die betekenisse van sy samestellende woorde is nie. Aangesien alle idiome nie dieselfde graad van “figuurlikheid” vertoon nie, word daar onderskei tussen 'n vol idioom wat geen woord bevat wat “letterlik” verstaan kan word nie, terwyl 'n laegraadse idioom ten minste een element bevat wat “letterlik” verstaan kan word, terwyl die ander woord(e) 'n hoogs gespesialiseerde betekenis in die vaste kombinasie het. Die identifikasie van idiome behels voorts die afgrensing daarvan van segswyses en kommunikatiewe gebruike in die kulturele wgreld van die Ou Testament.

Get new issue alerts for South African Journal of Linguistics